Gedurende 1996 het die ANC-geleide regering die “Growth, Employment and Redistribution” plan aanvaar. Die beleid van hierdie program ondersteun blatantdie base ten koste van die werkers. Dit wys die regering se verbintenis met die “vrye mark” stelsel.
Wat is GEAR?
GEAR is die ANC regering se strategie vir sosiale en ekonomiese ontwikkeling. Dit vervang die HOP. Die regering sê dat die beste manier om Suid-Afrika te ontwikkel, is om “ekonomiese groei” (d.w.s. om die base ryker te maak d.m.v. hoër winste) aan te moedig. Ekonomiese groei sal deur vryemark beleid aangemoedig word.
Die regering glo dat ekonomiese groei die erfenis van apartheid sal herstel. Maar as jy GEAR se beleid van nader bekyk, word dit duidelik dat hierdie seker sal maak dat base ryk word, terwyl werkers verdere armoede en hongerte sal beleef.
Die onderstaande tabel wys wat GEAR eintlik vir werkers inhou:
GEAR Beleid
- Fondsbesnoeiing deur die regering veral op lone en sosiale dienste (hospitale, skole en pensioene) en ‘n vermindering van staatskuld.
Wat dit vir werkers inhou
- Onderwys en gratis gesondheidsdienste gaan niks beteken, aangesien skole en hospitale dan oorvol, geldloos en hulpbronloos (boekloos of bedloos) word en sonder voldoende personeel sit.
- Tersiêre onderwys sal te duur word en beurse te skaars vir werkende families om universiteite en technikons by te woon.
- Pensioene sal baie laag bly.
- Daar sal baie min geld vir huise vir die huisloses wees.
- Die regering sal byna niks bydra tot die bou van infrastruktuur (water, paaie, sanitasie ens.).
GEAR Beleid
- Privatisasie van staatseiendom en vervoer, telefoondienste en elektrisiteit.
Wat dit vir werkers inhou
- Met die privatisasie van staatseiendom sal basiese dienste net beskikbaar wees vir dié wat daarvoor kan betaal (byvoorbeeld elektrisiteit).
- Baie werkers gaan hulle werk verloor of lae lone moet aanvaar, omdat die base en die regering kostes wil besnoei ten koste van die werkers en wil privatiseer.
- Werkers gaan meer moet betaal vir dienste soos vervoer ens.
GEAR Beleid
- Belasting koerse. Belasting op die base se firma’s gaan verminder terwyl BTW die hoogte inskiet.
Wat dit vir werkers inhou
- In plaas daarvan dat middelklas en rykes hoër belasting as armes betaal, gaan hulle dieselfde persentasie belasting betaal. Op hierdie manier gaan werkers ‘n disproporsioneel groot hoeveelheid belasting betaal en sodoende die grootste deel van die regeringslas dra
GEAR Beleid
- Handelsgrense en Handelskontrole gaan vernietig word om invoere te verhoog
Wat dit vir werkers inhou
- Werkers gaan hulle werk verloor of lae lone kry, omdat base hulle firma’s mededingend teenoor die goedkoop ingevoerde produkte wil hou.
GEAR Beleid
- Die regering en base se verwagtings van werkers
Wat dit vir werkers inhou
- Daar gaan van werkers verwag word om laer lone te aanvaar en meer produktief te wees (harder te werk), om ekonomiese groei en buitelandse belegging te verhoog,
GEAR Beleid
- Rentekoerse
Wat dit vir werkers inhou
- Rentekoerse gaan dalk val, maar gaan nog steeds hoog wees in vergelyking met ander lande. Dit sal dit moeilik maak vir werkers om op krediet te koop, aangesien pryse weer sal styg.
Verwerp GEAR
As werkers hul lewenstandaard wil verhoog, sal hulle GEAR moet verwerp. Maar Trevor Manuel het gesê dat die GEAR beleid ononderhandelbaar is en dat almal dit moet aanvaar. COSATU leiers sê dat hulle sal probeer om die regering se beleid te beïnvloed deur met hulle vriende in die verbond te praat. Ons kan nie vir onderhandelinge wag nie. Ons moet nóú GEAR in die werkswinkel weerstand bied.
Ons eis
- ‘n Einde aan die gesny aan gesondheids-, onderwys-, pensioen-, behuisings- en infrastrukuursfondse.
- ‘n Einde aan privatisasie.
- ‘n Einde aan verhogings in BTW, internasionale vryehandel en hoë rente en bankkoerse.
- ‘n Bestaansloon en ‘n einde aan loonbeperking.
- ‘n Einde aan afdanking en werkloosheid. Ons eis meer poste!
Hou politiek uit die vakbonde
Die vakbonde gee ons krag. Ons moet die regering se anti-werker ekonomiese beleide deur COSATU en ons vakbonde beveg. Maar as ons wil hê dat die vakbonde die sleutelkrag tot ons stryd moet wees, sal die vakbonde demokraties en onder die beheer van die werkers moet bly. Ons moet die regering se anti-werker beleid bestry. Die vakbonde moet ook alle beleidsforums soos NEDLAC bestry, omdat dié vakbonde se doel is om kapitalisme te vernietig, nie om dit te bestuur nie.
Voort na anargo-sindikalisme
Die regering, base en sekere vakbonde se “leiers” wil hê dat ons moet dink dat kapitalisme, ‘n sisteem van die uitbuitery van werkers en armes deur die base, die enigste oplossing is. Hulle wil ons oortuig dat sosialisme misluk het en dat werkers en armes vir die mees vriendelike vorm van kapitalisme moet veg.
Dit is leuens! Daar is ander werkende sisteme. Daar is libertariese sosialisme (anargo-sindikalisme). Ons moet daagliks ons base en die regering beveg vir beter werkstoestande en lone. Tegelykertyd moet ons, die werkers en armes, kapitalisme omverwerp deur ons vakbonde en gemeenskappe. Ons moet die huidige stelsel met sy gulsigheid en uitbuitery vervang met regeringlose sosialisme, ‘n samelewing gebaseer op werkers- en gemeenskapsbeheer en voetsoolvlak demokrasie.